|
Waarom aansluit by TASA? |
||
TASA staan vir Traditional Archers of South Africa. Rean Steenkamp sê waarom elke langboog- of kurfboogskut by die organisasie moet aansluit. Die Tradisionele Boogskuts van Suid-Afrika (TASA) is 'n organisasie wat hom daarop toespits om tradisionele boogskiet, tradisionele toerusting en die lewenswyse wat daarmee saamgaan te bevorder. Brian Dean het die organisasie ongeveer twee jaar gelede in die lewe geroep om tradisionele boogskiet te bevorder deur onderrig, deur bewaring van kundigheid, deur die algemene publiek aan die sport bekend te stel en deur die positiewe aspekte van stokboogskiet en die gebruik van tradisionele toerusting in die veld, in kompetisies en in boogjag uit te lig en te bevorder. Sedertdien is 'n hele paar suksesvolle byeenkomste aangebied. Gemeet aan die aantal deelnemers by die TASA- en ander tradisionele byeenkomste, soos die jaarlikse Sterkrvier-byeenkoms, is dit duidelik dat daar groot belangstelling in tradisionele boogskiet is en dat al hoe meer mense die stokboog opneem. Dit is egter vreemd dat min van hierdie tradisionele entoesiaste sederdien by TASA aangesluit het. 'n Mens wonder waarom. Hier is 'n organisasie wat hom daarvoor bywer om tradisionele boogskiet te bevorder, byeenkomste te reël en te help verseker dat stokboogskuts kan aanhou jag – maar niemand ondersteun die organisasie nie. Dit is baie vreemd! Hoeveel keer het ek nie al by ander langboog- of kurfboogskuts klagtes gehoor oor tradisionele boogskiet en jag nie – soos dat stokboogmanne nie dieselfde behandeling by byeenkomste kry as kragboogskuts nie, of dat kragboogskuts met hulle neuse langs afkyk na stokboogskuts? Ek dink nie dit gebeur meer baie nie, veral nie by SABA- of ABO-byeenkomste nie, maar dit bly steeds so dat tradisionele skuts hulle nie altyd tuis voel tussen die kragboogskuts nie – of daar nou rede voor is of nie. Wat 'n mens egter laat wonder is dat daar nou 'n organisasie bestaan wat uitsluitlik vir dié mense gestig is, maar dat die organisasie grootliks nie deur dié mense ondersteun word nie. TASA het die ondersteuning van die tradisionele boogskuts en boogjagters nodig om te ontwikkel in 'n volwaardige organisasie wat hom met gesag vir die bevordering van tradisionele boogskiet en boogjag kan beywer. Dié doelwit kan nie bereik word met so min lede nie! Hoe verwag tradisionele skuts dat TASA byeenkomste moet hou, of vir hul voorreg om met tradisonele toerusting te jag te veg, indien so min mense die organisasie ondersteun? Stokboogskuts kan natuurlik met reg vra wat die organisasie vir hulle doen. Waarom moet ek aansluit indien ek geen voordeel daaruit kry nie? Wel, watter voordeel verwag hulle indien die organisasie deur so min mense gedra word? Dit is 'n wonderwerk dat daar reeds soveel suksesvolle byeenkomste gehou is! Inderwaarheid het baie van die tradisionele skuts reeds voordeel getrek uit 'n organisasie waarby hulle nog nie aangesluit het nie. Dink net wat gedoen kan word indien TASA werklik ondersteun word! Intussen is die nuwe Norme en Standaarde vir Jagmetodes gepubliseer, wat dit vir baie boogjagters moeilik gaan maak om met hul stokboë te jag. Die meeste vroue en tieners sal waarskynlik net hase met hul boë mag jag indien hulle nie elke dag in die gimnasium wil krag-oefeninge doen sodat hulle 60 tot 70-pondboë te kan trek nie. Vroue en jong seuns met kort treklengtes sal nog swaarder boë moet trek om 50 voetpond vir rooibokke en vlakvarke en 60 voetpond vir koedoes en wildebeeste te kan baasraak. Wie gaan hierdie probleem met die regering opneem indien daar nie 'n organisasie bestaan wat omsien na tradisionele boogskiet nie? Gaan kragboogmense hul met volle oorgawe beywer vir tradisionele boogskiet? Ons is gelukkig om vriende soos Pierre van Wyk van ABO en Harry Marx van SABA, wat tradisionele boogskiet baie goedgesind is, te hê. Grant Adams, wat die 3D-diere verskaf by die meeste boogskietbyeenkomste, het ook baie in die verlede by SABA vir tradisionele boogskiet gedoen, en so ook JC Botha, 'n vorige voorsitter van SABA. Maar dit is tyd dat tradisionele boogskuts ook hul deel doen. TASA is die organisasie vir die doel, maar sonder lede kan hy nie werklik op die been kom nie. TASA het reeds 'n samewerkingsooreenkoms met SABA en ABO, maar met so min lede is die organisaie eintlik 'n verleentheid vir homself. Dit is tyd dat alle tradisionele skuts hul gewig agter TASA werp en die organisasie help vooruit beweeg. Kom nou, stokboogmense, sluit aan by TASA en bevorder die sport wat julle so na aan die hart lê! Besoek gerus TASA se webwerf by www.traditionalarchers.co.za indien u wil aansluit of meer oor die organisasie wil lees. Kom neem deel aan die volgende TASA-byeenkoms wat 13 Augustus in die Hammanskraal-omgewing gehou gaan word. Hou die webwerf dop vir meer inligting. Updated: Monday, August 15, 2011 6:41 PM |