|
Pyn in die bene, vark aan die haak! |
||
D’Uard van Zyl writes about hunting a bush pig at night during a winter’s evening in northern Natal, and tells how he had to squat down on his haunches until he lost all sensation in his legs. D’Uard van Zyl vertel hoe hy ’n bosvark gejag het op ’n wintersaand in Noord-Natal, en op sy hurke moes sit totdat hy alle gevoel in sy bene verloor het. Dit is ’n gewone Vrydag soos elke Vrydag, maar dit voel asof die dag ’n ewigheid gaan neem om verby te gaan. Een keer per maand vir die afgelope drie jaar was elke vier dae voor volmaan vir my ’n straf wat ek met baie ongeduld net wou verby kry. Die rede vir my “ondankbare gedrag” is dat ek drie jaar terug begin het om voerplek te maak op my vriend Deon se plaas, Bendor. Aangesien Bendor ’n wild- en saaiplaas is word daar deur die jaar baie varke geskiet, met oorsese jagters wat, glo dit of nie, ’n 60-duimkoedoe sal laat staan vir ’n bosvark. Met planttyd word daar in die lande gery en varke geskiet. So ook net ná oestyd. In Piet Retief hier in Noord-Natal was ’n boog ’n paar jaar terug nog iets waarvan kinders prentjies geteken het in die geskiedenisklas. “Boog wat?” het Deon my gevra. “Boogjag,” het ek geantwoord. “Ja, ek wil ’n vark met die boog jag. Sal jy my help?” Hy het aan die werk gespring en voerplekke begin maak. Twee maande later bevind ek my op “full draw” by ’n voerplek met net tamboekiegras as skuiling. Op daardie stadium het ek ’n Victex-boog gehad en met die span kom ek agter ek kan nie die visier so lekker op die vark sien waar ek hom wil skiet nie. So het dit elke keer gebeur tot ek agtergekom het die winter-volmaan werk die beste. Intussen het Deon boogjag-vrystelling gekry en amper elke derde maand was ek in die veld op soek na ’n spook – d.w.s. ’n vark. Vrydag 25 Junie vanjaar was die aand vóór volmaan en soos gesê, was dit weer een van daai lang Vrydae. Deon het my geskakel om te bevestig dat ek kom. Ouder gewoonte sou ek by die huis stop vir ’n lekker koppie koffie voor ek die sleutel vir die jagkamp kry en dan sorg dat ek so sesuur die middag in die boomstoel kon kom. Volgens die kamera kom die varke so teen agtuur in, en wil ek nie te veel beweging maak voor ek in die hoogsit inklim nie. Wat ’n lekker aand. Ek ruik die winter sterk en voel hoe die koue van bo af op my bles neerdaal. Ek is so ’n bietjie vies vir myself omdat ek te veel tyd by die huis bestee het en dit amper te laat is om by die hoogsit te wees voordat die varke inkom. Die afstand van my bakkie tot waar ek wou kom is so 700 meter, wat ek te voet moet aflê. “Dit is nou die verkeerdste tyd om haastig te raak,” praat ek met myself en probeer rustig raak deur doelgerig te loop en nog steeds te stop en te luister. Soos dit maar met baie van ons gereelde geweer-jagters gaan, is die gehoor nie meer so skerp nie en help dit nogal as ek die hand bak agter die oor sit om te luister. Aanvanklik het ek gedink dit is my verbeelding, maar toe ek dit weer hoor het ek die gegrom van varke herken. Dadelik, byna instinktief, het ek op my hurke gaan sit. ’n Mens hoor ook blykbaar beter op jou hurke, of op jou knieë, het oom Angus my geleer. Dit was vyf oor sewe, die maan klaar baie helder, en ’n sprokiesmooie natuurtoneel ontvou voor my oë. Wat ’n voorreg het ons om in so mooi land te bly, dink ek by myself – ten spyte van die politiek en die uitdagings wat ons elke dag moet oorkom. Die tyd het stil gaan staan. Emosies, ook vrees, was besig om die oorhand te kry. Ja, ek het alleen gevoel met net een boog en twee pyle. Ek kon hoor hoe die varke deur die gras beweeg en het my oë toegemaak om liewers niks te sien nie, met die hoop dat die bokkoors sou verdwyn. Dit het nie. Ná omtrent 20 minute, wat soos ’n ewigheid gevoel het, was my bene baie seer van die hurkery en wou ek glad nie beweeg nie omdat die beer nog steeds roerloos vir my staan en kyk het. Die volgende oomblik grom die beer en storm reg op my af, maar swaai weg en verdwyn in die tamboekiegras in. Eers toe hy weer op dieselfde plek uitkom en weer stilstaan en in my rigting kyk, besef ek dat hy vroeër net die beweging moes gesien het en dat hy my nie kon uitken nie. Ook maar goed so – my bene sou my in elk geval nie kon dra nie, al wou ek met tye net opstaan en weghardloop. Die pyn in my onderlyf het ondraaglik geword net voordat alles heeltemal doodgegaan het. Nog ’n grom-storm het gevolg en die beer het presies dieselfde gedoen. ’n Sog met vier kleintjies het sigbaar geword en ek het besef dat ek nou vinnig moet speel. Die gebewe het opgehou en die gretigheid om ’n vark te skiet het verflou. Nou wou ek net wegkom. Maar beweeg was buite die kwessie. Wat presies daarna gebeur het, kan ek nie meer onthou nie. Instink het oorgeneem en voor ek tot my sinne kon kom, was die pyl op pad. Ek kon nie die pyl sien nie, maar kon mooi hoor dat hy tref. Die sog het verdwyn met net die vier kleintjies wat nog rondstaan en nie weet wat gebeur het nie. Maar toe sy hulle roep het hulle vinnig in haar rigting verdwyn. Ek het gaan sit en my bene vir die eerste keer reguit gemaak. My horlosie sê dis tien oor agt. Diep binne-in my hart was ek dankbaar en sê ek ’n skietgebed om dankie te sê terwyl ek wag vir die lewe om terug te kom in my bene. Na 30 minute, wat soos nog drie ure gevoel het, kon ek opstaan en bakkie oe loop. Ek het besluit dat ek die vark tot die volgende oggend sou los voordat ek hom gaan soek. Ons het gewerk in die rigting waarin die vark gehardloop het, en 15 meter van waar ek geskiet het, het ons bloed gekry. Baie donker – ’n lewerskoot, wat ons laat wonder het of ons hom sou kry. Saggies het ek nog by myself gebid dat ons asb. die vark sou kry, toe Deon vassteek en my ’n lekker handdruk gee. My grootste droom is bewaarheid. Dankie, Deon. Sonder jou sou ek dit nie kon doen nie. En dankie aan my Hemelse Vader wat vir my so ’n pragtige dier gegee het. Updated: Monday, August 16, 2010 12:22 PM |