| Herskepper van die tradisionele | |||||||
Johnny Snyman is one of South Africa’s best-known bowyers. He has been a bow enthusiast all his life and is known all over the country for the beauty and functionality of his products. Herman Jonker interviewed him for Africa’s Bowhunter. Johnny Snyman bou nie net tradisionele boë nie, hy laat die eienskappe en romantiek van antieke wapens herrys vir moderne skuts. Maar wie is die man agter die naam? Herman Jonker het met hom gaan gesels. Die pad na Johnny Snyman se werkswinkel naby Sedgefield loop deur die hart van die Suid-Kaapse kuswoude. Hmm. Heartwood Bows, noem hy sy besigheid. Dit maak sin. Dis ’n fris man wat uitkom om te groet. Mus op die kop en vaal van die saagsels. Jy verwag ’n groot persoonlikheid ook – sy roem as bouer van tradisionele boë loop hom immers ver vooruit. Agter die sterk handdruk vind jy egter ’n bykans skugter ou met ’n nederigheid eie aan die soort persoon wat homself en sy roeping gevind het. Dis rustig in die werkswinkel, koel in die skadu van die bome. Die klompie masjiene wil die plek na ’n fabriek laat lyk, maar die atmosfeer is eerder dié van ’n ateljee. Johnny bring koffie en die aroma vul die houtgeur wat in die lug hang tot volle karakter t
erwyl Jack die pitbull lê en luister wat ons gesels. Waar het dit alles begin, vra ek. Van sy derde tot sy sesde jaar het hulle in Rhodesië gebly, vertel Johnny. Wonderlike jare, die regte plek op die regte tyd vir ’n laaitie soos hy. Tarzan se boog het gesorg dat ’n klerehanger die volgende dag ’n reksnaar gekry het en kort daarna het ’n plaaswerker vir hom ’n houtbogie gemaak waarmee hy en sy verbeelding baie plesier gehad het. Later, terug in Johannesburg, was daar ’n boogstel in sy Kerskous. Op sy agtste verjaardag het hy ’n egte Bear van veselglas gekry, weer ’n kurfboog, en daarna ook ’n bietjie afrigting by ’n oom van hom wat ’n teikenskut was. Johnny het baie geskiet, sommer in die agterplaas. Twee jaar in die weermag en ’n kommersiële duikkursus het voorlopig ’n einde gebring aan sy boogliefde. Eers later, toe hy hom as diamantduiker in Port Nolloth bevind, het die gogga weer gebyt. Daar was afdae en dae wanneer die see te onstuimig was en hy moes besig bly. Hy het ’n Barnett-teikenboog van 40 pond, met visiere, aangeskaf, maar spoedig teikenvrees gekry. Vir hom wat van kindsdae af met ’n kaal boog geskiet het was ’n visier net te intimiderend. Toe, vertel Johnny, kom die groot ommeswaai: die konsep van instinktief skiet, sonder om te mik, wat hy ontdek het in Fred Bear se boek The Archer’s Bible. Dit was vir hom ’n openbaring. Sommer dadelik ná hy die visier en bybehore van die Barnett afgehaal het, het dinge vir hom begin sin maak. Hy het beter geskiet, maar ook besef dat die boog eintlik te lig was vir hom. Sy volgende boog was ’n 20-jaar-oue Pearson Mercury Marauder van 55 pond, van veselglas, wat hy by die pionier-onderwaterfotograaf Gary Haselau gekoop het. Op sy afdae het hy in die sandveld en duine rondgeloop en pyl na pyl geskiet op voorwerpe in die veld. ‘Stump shooting’, soos hy dit noem, tot 500 skote per dag, het sy instinktiewe vermoëns geslyp tot ’n punt waar hy letterlik ’n haas in die hardloop kon skiet. Maar toe trap Johnny in ’n slaggat – een waarteen hy steeds ander skuts waarsku. Die aanloklikheid van meer krag het hom ’n boog van 72 pond laat koop, ’n Martin X200. Sommer gou het sy skote begin dwaal. Eers het hy nie geweet wat aangaan nie, tot hy besef het dis die boog wat hóm begin beheer het en tot onbeheersde, haastige skote dwing. ’n Jaar terug by die 55-ponder het hom genees. Daarna het hy dit weer na swaar boë gewaag, maar gereeld ook ligter boë geskiet om goeie boogbeheer te behou. In 1999, ná tien jaar in die koue waters van die Atlantiese oseaan, het hy gevoel dis tyd om sy hart en kop te volg. Hier in Sedgefield se houtwêreld het hy kom anker gooi om boë te bou. Enkelstuk-houtboë, want houtwerk was sy ander liefde. Sy vaardige vingers het begin om plaaslike assegaai en kamassie, sowel as sentraal-Afrikaanse en eksotiese houtsoorte, te omskep in sierlike langboë, maar verkope was traag. In ’n moderne konteks mag die eenstuk-houtboog wel klassiek eerder as primitief wees, maar hy het steeds sy beperkinge. Johnny moes uitvind dat die mark aanbeweeg het na meer gevorderde materiale. Die sprong na die tegnologie van gelamineerde boë het vereis dat hy eers weer moes gaan duik om die nodige kapitaal te kry. Ná twee jaar onderwater in die diep seë van die Verre Ooste en die olievelde van Wes-Afrika was hy terug. Vandag is Johnny een van Suid Afrika se mees gerespekteerde boogbouers, veral bekend vir sy kurfboë en Asiatiese boogvariante. Hy bou ook steeds langboë en hibriedes, met die aksent op duursaamheid en ’n tradisionele voorkoms. Die meeste van sy skeppings gaan na plaaslike sportskuts en jagters, maar hy verskaf ook aan oorsese kopers. Hy bou ook boë en replikas vir rolprentvervaardigers en versamelaars van antieke wapens. Boogbybehore, asook materiale en komponente vir selfbouers, vul die Heartwood-reeks verder aan. Johnny is nederig oor sy sukses. Hy skryf dit graag toe aan die hulp wat hy ontvang het van boogpionier Derek Nourse. Hy het self jare gelede een van Derek se Norsemen-boë gekoop en het deurgaans goeie advies by hom gekry – ook toe hy hom destyds vasgeloop het teen te veel ponde. Baie oproepe en vrae het gelei tot ’n vriendskap en vandag beskryf Johnny vir Derek as ’n katalis in sy ontwikkeling as boogbouer. Maar wat van Johnny se eie bydrae tot die Suid-Afrikaanse boogtoneel? Vanwaar byvoorbeeld die Midde-Oosterse tipe boë? Sy eerste Skitiese (Scythian) boog het ses maande geneem om te ontwikkel, maar dis nie waar dit geëindig het nie. Die proses is nooit klaar nie. Elke nuwe boog is weer ’n skoon vel papier. Johnny kyk na boogskiet uit ’n filosofiese oogpunt en is altyd op soek na ander horisonne. Deesdae is dit veral die tradisionele Hongaarse ruiterskuts en hul skietstyl wat hom interesseer. Om met ’n boog te kan skiet van ’n perd se rug af maak nuwe moontlikhede oop, glo hy – veral in sportskiet. Daarom is hy tans aktief betrokke by die stigting van ’n nasionale organisasie om hierdie faset van boogskiet as ’n sport te bevorder. Turkse boë van hout, horing en sening is dalk die volgende stap in sy herontdekking van die tradisionele, sê hy. Hy’s lief vir hout, veral die Knysnasoorte wat hy graag vir grepe gebruik, en hy het ’n goeie oog vir die karakter daarvan. Hy probeer deurgaans die estetiese voorkoms van die hout in ’n boog behou, maar ander natuurlike materiale soos horing en been het ook vir hom ’n aantrekkingskrag. Is hy self ’n goeie skut? En die storie dat hy die bronskern uit ’n vyfrandstuk kan skiet as iemand die munt in die lug opgooi? Jag hy? Wanneer jy klaar gegroet het en weer die pad vat deur die bosse, weet jy: Johnny Snyman se hart is in hout en sy kop is deurspan met boë.
|
|||||||
| Updated: Monday, May 23, 2011 9:43 AM | |||||||