|
Die lewe saam met ’n boog |
||
Francois Squirra vertel van sy vrou Cornelia se eerste bok, en filosofeer oor die verhouding tussen die mens en die boog. “So long as the new moon returns in heaven a bent, beautiful bow, so long will the fascination of archery keep hold of the hearts of men”. Dit is met dié woorde dat Maurice Thompson, in sy boek The Witchery of Archery, die bekoring wat ’n pyl en boog vir die mens inhou so raakvat. Vir letterlik duisende jare al kom die pyl en boog hand-aan-hand saam met die mens deur die annale van die geskiedenis gestap. Hier en daar het sekere beskawings vergeet van ons noue verbintenis met die wapen’. Die woord ‘wapen’ is ’n baie los term. Oorlog is sekerlik die prentjie wat die duidelikste in ons gedagtes vassteek as ons aan die gebuigde stok dink, maar die pyl en boog het ’n ander sy ook. Dit is ’n dieper, meer spirtualistiese sy, wat vir die deursnee-westerling lank vergete gebly het: die verhouding tussen boog en mens as voorsiener, oftewel jagter. Dit is by hierdie verhouding met die boog waar ek vir ’n tydjie wil stilstaan. Met die koms van die vuurwapen het die boog uitgedien begin raak as miletêre wapen, en dieselfde het in die jagveld gebeur. Die gebulder van swartkruit het die sagte fluister van ’n pyl vervang. Maar gelukkig het die tradisievaste Engelse die boogskietkuns vir die weste bewaar. Al was dit net die adellikes wat boogskiet beoefen het, die vlammetjie is aan die brand gehou en het oorgespoel na die Amerikas – waar daar ook ’n sterk invloed van die boorlinge van die kontinent gekom het. Waar ons hedendaagse belangstelling in boogjag vandaan kom is debatteerbaar. Is dit gesetel in die oorlewering van Ishi? Of is dit te wyte aan mense soos Howard Hill en Fred Bear, wat weer die mens se verhouding met die pyl en boog, as jagmiddel, aangewakker het? Dit maak nie regtig saak nie. Wat wel saak maak is dat daardie oeroue tradisie vandag weer voortgesit word. ’n Soort simbiotiese verhouding. Die hele redenasie het my kop gevul terwyl ek en my vrou, Cornelia, ná ’n warm, opwindende Desemberdag, gesit en gesels het terwyl die skaduwees al langer rek. Ons weet waar kom die warmte in Afrika vandaan, veral in Desember. Daar is ook altyd genoeg opwinding om jou dag te vul, maar dié dag se opgewondenheid was aan iets anders te danke. Haar eerste boogjagtog. Die dag was die hoogtepunt van meer as vier jaar se lewe saam met die pyl en boog. Die bekoring wat die pyl en boog vir ons altwee het, het al vele gesprekke, redenasies en filosofering in ons huis veroorsaak. Een van die komieste uitdrukkings die afgelope tyd het gekom op ’n middag nadat Cornelia my gehelp het om sening op die rugkant van ’n boog te plak. Nadat ons die sening klaar geplak het, het sy te midde van die taaispul in die buitekamer na my gedraai en met ’n glimlag gesê: “Dit was nou ’n bonding experience”. Daar is nie veel te vertel oor voorbereiding nie, want omdat ons elke dag skiet of iets met ’n boog te doen het, is die pyl en boog deel van ons lewe. Nadat sy my gebel het om te sê sy het ’n rooihartbeesbul geskiet, het ek en ons jongste, Robin, by haar in die veld opgedaag. Saam het ons drietjies die bloedspoor geneem en nie 100 meter vanwaar Cornelia geskiet het nie, die bul gekry. ’n Netjiese longskoot. Vir dié wat al gejag het is dit onnodig om die emosies waardeur die jagter gaan as hy voor sy prooi staan, te beskryf. Vir diegene wat dit nog nie beleef het nie: dit is ’n mengsel van blydskap en dankbaarheid, en ook hartseer teenoor die dier wat sy lewe gegee het sodat jy kan lewe. ’n Soort bewuswording van waar jy hoort. Daar waar ons op die stoep gesit en kyk het hoe die skaduwees langer word, het sy weer gereflekteer oor haar hele ondervinding. Dit is merkwaardig, die detail wat ’n mens se brein stoor as jy jag en daardie groot oomblik breek aan. Sy was in ongeloof oor die feit dat sy met haar boog (’n Bosbok van 49 pond van Heartwood Bows) ’n bok geskiet het. My opmerking aan haar was: dit voel ongelooflik, veral in die moderne tyd, maar vir ons voorouers het vir millennia só geleef. Vandag het ons weer die geleentheid om ’n stukkie van daardie tyd te beleef – om terug te staan en ons te verwonder aan hoe ver ons gevorder het, maar nooit te vergeet waar ons vandaan kom nie. Ons het ons verwonder aan die samelewings wat van die pyl en boog afhanklik was vir hul bestaan. Hoe daardie mense se hele dag en lewe om hulle boë moes draai. Van reguit bome en takke soek en ure se werk met primitiewe toerusting, om eindelik met ’n boog in hand die gesin of stam se kos te gaan soek. Die pyl en boog was ’n verlenging van hulle persoon. Om die waarheid te sê, dink ek hulle wese het daarvan afgehang. Wat gee dan nou meer sielerus vir die jagter as om met ’n gespande boog en ’n koker vol pyle die veld in te stap en te weet hy/sy is deel van die skepping? ’n Baie eenvoudige bestaan. Ek dink nie hulle was oor kinetiese energie of momentum bekommerd nie. Die enigste bekommernis was die volhoubaarheid van die natuur waarmee hulle so nóú saamgeleef het. Vandag is dit baie anders. Ons leef in ’n moderne tyd, waar moderne optrede van ons verwag word. Familielede wat lustig smul aan wildvleis, kyk met beskuldigende oë en ’n tongklap in jou rigting omdat jy diere doodmaak en hulle eet. Jy word as ’n soort agterlike wese beskou omdat die primitiewe by jou aanklank vind. Dan glimlag ek maar net en hoop die tongklap is nie omdat die vleis te droog is nie. Dit het ons baie lank geneem om weer te onthou wat ons lankal vergeet het: volhoubare benutting. Ons leef steeds nóú saam met die natuur en ek hoop net ons gaan nie te laat agterkom dat ons nie eenkant staan op hierdie aarde nie, maar deel is daarvan. En so terloops: vir die afgelope paar maande kyk ek elke maand na die sekelmaan, en ek het nog nie een “cam” gesien nie. Nie eens ’n halwe een nie, wat nog praat van ’n cam-en-’n-half. Updated: Monday, March 14, 2011 10:24 AM |