Voetspore oor ’n Kalahari-sandduin

Figure 1: An example of sickle bush.
Foto 1: Van bo na onder: twee pyle wat gevoeg is en weer reg is vir skiet; ’n skerp Stanleymes; die pylspalker of arrow splicer.
Foto 2: Sny die vere los met ’n geskikte mes, vanaf die agterkant van die veer vorentoe.
Foto 3: Ou geweerdoppies maak uitstekende stomppunte of blunts.

Francois Squirra gesels oor die instandhouding en hergebruik van houtpyle.

Ek luister so ’n week gelede na ons plaaslike radiostasie, na daardie een uit die hartland van Suid Afrika. Die omroepster voer ’n onderhoud met ’n man wat die wêreld wil verander. Goed so, dink ek, die wêreld het baie plek vir verbetering. Maar toe ek myself vang dat ek besig is om ’n hoofpyn te kry van die frons tussen my oë, rek ek ’n slag my oë wyd oop en begin dink oor wat die man besig is om kwyt te raak. Die gesprek handel oor organiese groente en hoe ons ons koolstofvoetspoor (carbon footprint) kan verminder deur van vleis te vergeet en liewers hierdie organiese groente by die vragvol te verorber. Ek wonder of hy weet waar kom organiese bemesting vandaan? Ek is seker dit kom nie vanaf diere wat op hokke staan en hope voer gevoer word nie. Ek is seker die organiese brigade hol met grafies en ’n sakkie agter veldbeeste en wilde diere aan.

Moet my nie verkeerd verstaan nie – ek is gek na ’n bord geroosterde groente. Wortels, goue aartappels, groenboontjies en pampoen, bedien met ’n porsie rooigras, net so oor medium gaargemaak. Sien, anders as die erkende vegetariërs, wat net ’n baie beperkte aantal van die aarde se plante benut, benut ek omtrent die meeste van Suid-Afrika se plante. Vanaf die spekbome in die Oos-Kaap, deur die bossies van die Karoo en Kalahari en die grasvlaktes van die Vrystaat en hoëveld tot by die Combretumblare van die bosveld en laeveld. En ek doen dit sonder om enige onnodige bemesting te gebruik en ook sonder om potensiële jagveld om te dolwe in die proses. Die enigste voetspore wat ek as jagter op die planeet laat is dié wat vanaand se westewind kom toewaai. Maar as ek so van koolstofvoetspore praat en dink aan die mens wat hom deesdae so besig hou met hersirkulering (recycling), kom my gedagtes weer by my houtpyle uit.

Hout, vere en staal vergaan met die tyd, maar daar is darem vele tegnieke wat die tradisionele skut kan gebruik om sy houtpyle so lank as moontlik te laat hou. Voor daardie hartseer dag aanbreek dat jy moet afskeid neem van ’n vriend wat jy in die sweet van jou aangesig aanmekaar gesit het. Dus wil ek vandag gesels oor houtpyl-hersirkulering (ons moet ook maar inval by die wêreld). Ek dra hierdie artikel op aan al die tradisionele manne en vroue waarmee ek al paaie gekruis het en van wie ek al baie geleer het.

Ons almal weet van die wet van gemiddeldes. Nou juis agv hierdie wet gebeur dit soms dat ons tradisionele skuts ’n pyl of twee (of drie, of vier) breek. Sien, ons skiet so baie dat dit onafwendbaar is. Wat maak ons met daardie pyle wat so breek? Kom ons begin by ’n punt. Gestel die punt van ’n houtpyl breek af, maar die res van die pyl bly ongeskonde. Die pyl is nou te kort om weer ’n punt aan te sit en jy wens liewers dat Gemiddeldes en al sy wette jou hele pyl verorber het. Want jy sit nou met ’n halwe stukkende pyl. Uit ’n ander perspektief gesien sit jy eintlik met ’n halwe heel pyl. Maar Jaco Wessels van Timber Point Archery verkoop ’n pylspalker of arrow splicer. Dit is ’n stukkie staalpyp wat teen ’n hoek van vyf grade afgesny is. Jy plaas eenvoudig jou gebreekte pyl in die pyp en sny met ’n skerp Stanleymes die een kant van die voeg. Vir die ander kant gebruik ek een van die vele ander pyle wat ek per ongeluk gebreek het. ’n Bietjie koue lym en vier wasgoedpennetjies (plastiek) en jy het ’n nuwe pyl. Onthou net om pyle van dieselfde styfheid of spine te spalk. Ook moet jy seker maak dat jy die voeg só sny dat die grein van die hout ooreenstem. Kyk gerus na foto 1. Nou kan jy die pyle afskuur en weer ’n lagie of twee seëllaar aanwend.

Nou soms gebeur dit dat jy ’n teiken misskiet, en dat die baanopsteller ’n massiewe rots as pylvanger agter die teiken gebruik het. Jou pyl bars in ’n skouspelagtige reën van splinters oop, jou medeskuts sluk om hulle lag te hou en hoop stilletjies dit gebeur nie met hulle nie. En jy wens die man wat die teiken daar voor die rotsbok geplaas het, sterkte toe met sy toekoms. By nadere ondersoek en met almal se simpatie tel jy net die agterste gedeelte van jou pyl op. Geen probleem nie. Daar is nog drie vere in ’n goeie toestand en ’n pylhaak wat jy ook nog kan gebruik. Altyd iets om oor positief te wees. Hoe verwyder jy die vere? Gebruik jou gunstelingknipmes – daardie een wat nie té skerp is nie en waarmee jy altyd die gedroogde “veldgras” sny. Begin by die agterkant van die veer en sny hom versigtig van die afgestorwe pyl af (kyk foto 2). As jy van voor af sny kan die die lem tussen die veerhakies in gly en die veer halveer. Ek het ’n groot blik vol sulke herwinde vere en ek plak hulle gewoonlik op my oefenpyle. Die kombinasie van verskillende kleure laat soms ’n glimlag op my gesig – veral die een pyl wat ek, heel toevallig, met ’n heldergeel, ’n groen en ’n swart veer geplak het. Ek moet darem my steun vir ons nuwe Suid-Afrika wys. Om die pylhaak los te kry kan jy die agterste deel van die pyl in warm water plaas. So ’n paar ure of oornag is gewoonlik voldoende om die gom te laat loskom. Op dié manier kan jy ver kom met die toerusting wat jy tot jou beskiking het.

Ek het eendag by ’n medeskut ’n oulike manier gesien om stomppuntpyle (blunts) te maak mbv ou patroondoppies. Hier werk ’n .223-kaliberdoppie baie goed. Sny die nekgedeelte af en plak dan die doppie met ’n “hot melt” vas op die pyl. So ’n stomppunt weeg so ongeveer 100 grein en die skerp kante is dodelik op hase – of gebruik hulle vir stump shooting. Kyk foto 3.

Aan die einde van die dag kom die son terug aarde toe en jy begin dink aan ’n vuurtjie daar in die donker bos. Op so ’n oomblik gaan jy bly wees oor al die splintertjies van pyle wat jy bymekaar gemaak het. En as jy hulle rustig sien brand daar onder die kameel­doringstompe – wees dan verheug oor die voetspore wat jy vandag agtergelaat het.

Updated: Monday, June 14, 2010 3:11 PM